Al weer ‘n nuwe een…

September 18th, 2006

Dis dan nou hier wat ek die rede vir my afwesigheid, soos genoem in die vorige post’, vir julle wys. My website is al weer aan die verander. Julle sien, my graphic designer het al weer te veel tyd en energie vir haar haarstyl en daarom het sy dit goed gedink om die hele ou spul (wat sy laas opgesit het!) te gaan verander.

En wie is ek nou om ‘n behoeftige die pad te wys? Daarom sal hier so paar veranderinge en ‘dead links’ wees vir so paar dae totdat sy in haar kreatiwiteit besluit het wat sy nou eintlik wil doen. Met my pragmatiese brein kan dit dalk ‘n rukkie vat want ek weet nie altyd wat is ‘mauve’ nie. En toe ek haar tong in die kies vra om links na pornsites op te sit omdat ek net doodeenvoudig nie nou op die stadium aan iets anders kan dink nie moes ek koes vir die goed wat aangevlieg kom.

So hier sit ek nou en verduidelik vir julle wat die idee agter die nuwe ‘look’ is. Wel ek weet self nog nie wat die idee agter die nuwe ‘look’ is nie. So as julle uitvind, laat weet my. Tot dan weet julle wat blou is en wat op pad is…

The End

Ek is nog hier…

September 14th, 2006

Tydens ‘n redelike onlangse besoek aan die PraatSaam Forum van Boerseun het ek gesien (en deelgeneem) aan die poll wat handel oor die wel en wee (of afwesigheid daarvan) van ene Mnr. Rudi ‘Chivas’ de Wet.

Hierin word bespiegel oor my doen en late van die laaste twee maande, drie weke, vier dae, 16 uur en 27.3 sekondes. Dis nou ten tye van publikasie. Gaan werk dit uit en kyk of ek reg is. Op die CIA se website is daar so terloops ook ‘n World Fact Book wat handel oor die einste onderwerp en kan in die kategorie: ‘The Three Most Important Questions About Life’ gevind word (Die link werk nie lekker nie). Julle kan daar gaan lees as julle wil maar ek kan die vrae vir julle hier in ‘n neutedop opsom:

  • What is life?
  • What is love?
  • What the F… happened to Rudi ‘Chivas’ de Wet?!

Aangesien moontlike oplossings vir veral die laaste vraag hierin nie voldoende is volgens my nie het ek besluit om julle in te lig. Dit veral nadat een persoon berig het dat ek nou in John Malcovich se kop is. Dis nie soseer die idee van om in iemand se kop te wees wat my afgepis het nie, want wie sal nou nie so af en toe in iemand anders se kop wil wees nie? Dis meer die idee van John Malcovich wat my teen die mure uitgedryf het. Hoekom nie eerder iemand soos Manto Tshabalala-Msimang of Jacob Zuma nie?!! Of selfs Bob Mugabe?!

In die woorde van Ricky Gervais: ‘Let me dispell ‘n myth’, ek is nie Dr. Gervan Lubbe ‘incarnate’ nie (Dankie Boerseun vir daai ene!) en ek het myself ook nie dood gedrink nie (Nakkie en sy draak wen die prys hier…) Ek gaan ook nie lame verskonings uitdink soos ‘Ek werk aan Potgooi.com’ nie. Wat ek eintlik probeer sê is dat daar net nie genoeg plek in die wereld is vir iemand soos ek nie. Daarom het ek besluit om te ontrek van die potgooi gemeenskap tot my &%$#@ werk klaar is.

Julle sien, ek vertrek die 3de Oktober 2006 na Egipte toe waar ek vir twee weke op ‘n vaart op die Nyl rivier gaan sit en bier drink. En Chivas. En enige ander vorm van Germaanse bruisdrankies of Skotse Moutdrankies wat ek op in die hande kan kry. Wettiglik of onwettiglik. En as my werk nie klaar is nie kan ek nie gaan nie. Anders as die ander expats wat op die oomblik die weelde van goedkoop reis en vinnig vlieg kan geniet moet ons arme Suid-Afrikaners omtrent ‘n jaar voor die tyd al begin beplan.

Toe ek die ander dag my kliënt so terloops van my planne inlig is ek vriendelik meegedeel van die gevolge van so ‘n stap sou my werk nie volledig en afgehandel wees teen bogenoemde datum nie. Die woorde ‘boggerof’, ‘jy’, ‘as’ en ‘nie klaar is nie’ is almal in een sin genoem.

O ja, en ek werk ook aan my website. Die plan is om een van die dae ‘n ander stem ook op die lug te hê. So sal my show bietjie wissel en ek hoef ook nie die admin van upload en update te behartig nie. Lekker nè?

Intussen hoop ek nog steeds kliphard die blou voël van geluk skyt nog harder op julle elkeen se koppe…!

ek loer vir julle.jpg

The End