Viva Democrasy

December 11th, 2008

En weereens beleef ek die stryd met tegnologie. My website was af. Die keer kan ek nie rerig vir Vodacom die skuld gee nie want ek het hulle nie gevra om my te help nie. Doodeenvoudig omdat ek gedink het die vorige keer was ook hulle skuld. Toe nie. Ek dink dis Microsoft se skuld. Want dit was net nadat ek ‘n nuwe “service pack’ gekry het. Nou vra ek myself af, terwyl ek my eie badwater drink, wie word ‘geservice’? My raad is op…

En so sit ek en dink aan pittighede om kwyt te raak terwyl die politiek en sport aan gaan. My vrou loer oor my skouer en dink ek gaan iets ouliks kwyt raak maar wys net die hele tyd vir my op my spelfoute. Asof ek nie kan agter kom dat ek sukkel met die spelcheck nie want ons het weer bietjie gebraai.

Die DA het my intussen opgespoor. Hulle wil he ek moet housecalls maak. En byeenkomste fasiliteer. Dit klink soos die CellC girltjie wat my elke tweede week bel en probeer oorreed dat hulle beter is as Vodacom. Hulle weet nie eers wat ‘n OMNIA is nie. OK, vir die effens meer oningeligtes, dis die beste selfoon ooit. Beter as Nokia se beste probeerslag. Samsung se beste bydrae tot die selfoonmark ooit. Die lekkerste speelding sedert Yo-Yo’s en tv-games. En ja, ek het een. My kinders gaan my seker eendag spot hieroor. Soos ek myself spot oor die eerste selfoon wat ek ooit aangeskaf het. R1800 vir ‘n selfoon gelykstaande aan ‘n horlosie met ‘n simkaart. GEC het dit destyds gemaak. En toe kom die Nokia se ‘flagship’ uit in SA. die 33-iets. Min of meer dieselfde as ‘n horlosie met ‘n simkaart en hy kom in twee verskillende kleure.

Teen R2.50 vir ‘n 30 sekonde oproep was dit die toekoms van telekommunikasie. Die dominees het begin beplan vir die einde van die wereld. En hier sit ons met televisies op ons selfone. Ons gebruik dit om ‘n ‘fight’ by die skool af te neem en dan ons beste tjommies af te pers met die ‘evidence’.

Politiek se skuld. Ja, ons is weer terug op die onderwerp. Cope en ANC en DA se skuld. Whatever…

The End

Nie al weer nie…

October 27th, 2008

Ek vind dit deesdae moelik om my persoonlike lewe van politiek te skei. Alles wat ek deesdae doen of se het direk, of in ‘n mindere mate, indirek ‘n invloed uit die politieke oorde. Soveel so dat ‘n goeie vriendin gister by die kerk vir my vra vir wie sy nou eintlik moet stem. Ek het geeerd gevoel dat my opinie vir haar saak maak maar is effens onkant betrap met die vraag.

EK beskou myself op die stadium as iemand wat ‘n gesprek oor die alledaagse politiek redelik aan die gang kan hou en min of meer ‘educated opinions’ kan kwytraak. Hoe dit ook al sy, die vraag het my bietjie geboul want ek kon haar nie rerig antwoord nie. Ek kon haar wel antwoord dat dit nog lank is voor ons daai bruggie gaan oorsteek maar dat registrasie die volgende stap is. Nou praat ek met myself ook. Ek het nog net een keer gestem en dit was met die eerste demokratiese verkiesing. Daar is drie vername redes hoekom my kruisie nooit weer getrek is daarna nie. Eerstens hoef die Suid-Afrikaners daardie jare nie te geregistreer het om te kan stem nie. Ek is nie iemand vir ‘qeues’ nie. Om die waarheid te se ek raak geirreteerd as ek en my vrou van die dorp af kom en sy sukkel om die huis oopgesluit te kry. Tweedens was ek landuit toe die tweede verkiesing gehou was. In Amsterdam as ek reg onthou. En derdens, die vernaamste rede, is ‘floor crossing’. Hier stem die mense toe vir hul gunsteling kandidaat. Dalk nie soseer VIR hom nie maar eerder TEEN die ander liegbek. Net om so paar weke later uit te vind hy is net so groot liegbek en het oorgeloop na die ander liegbek se party toe. Nou vra ek myself hoekom moet ek gaan stem as daar ‘n moontlikheid is dat die ou gaan oorloop. Tien kosbare minute op die toilet later het ek tot die slotsom gekom dat ons land so min demokraties is as Zimbabwe. Tot so maand terug…

Shilowa en Terror besluit toe hulle gaan die spreekwoordelike  pap in die fan gooi en ‘n nuwe party stig. Soos ek hier skryf word hulle tydens elke konvensie deur die Zuma Dance Club ontwrig. Demokrasie het intussen ‘n groter werklikheid geword want die Zuma Dance Club word ontwrig deur Terror se Mbeki Fan Club. Soos ek so paar weke terug geskryf het, is twee derde meerderheid, en gevolglik die grootste bedreiging vir demokrasie, amper al iets van die verlede. Helen Zille en kie kon nie rerig ‘n merkwaardige duik in die ANC se outokratiese bestuurstyl skop nie. Maar Terror doen dit al klaar. En die voormalige Vrystaatse Premier en Voorsitter van die ANC het nog nie eers sy fanclub geregistreer as politieke party nie. Afgesien van die herhaaldelike toesprake met cliches van tipiese naiewe politici oor die ‘Freedom Charter’ en alles en nog wat in die naam van ‘democrasy’, het hulle nog nie eers ‘n manifesto nie. NOU dans die Zuma perde EERS.

Verder is Julius Malema nou ook een van die hoogs gekwalifiseerde leiers in die ANC. Met sy matriek, met ‘n beste C simbool vir Engels Tweede Taal en ‘n swakste simbool vir Houtwerk (GG Simbool vir daai een) is Julius verder geleerd as JZ, wat inweeg met ‘n Standerd Ses! Inteendeel, Julius moes sy matriek met ‘n meesters graad gekry het want hy was 20 toe hy uiteindelik matriek kon slaag. Maar die ANC Jeugliga is dit eens dat hulle leiers nie verkies word op grond van hul kwalifikasies nie. Ek stem saam, leierskap is ‘n eienskap waarmee iemand gebore word. Jy kan dit nie aanleer nie. Maar iewers moet mens die streep trek en vir die jeug van vandag probeer wys maak dat verdere studies tog belangrik is, nie waar nie? Almal wil tog nie opeindig in die ANC leierskap nie! Die land het tog sy dokters en rekenmeesters en onderwysers nodig. Dink mooi, wie is Julius se gehoor? Wie is Zuma se grootste ondersteuners? Die ANC se jeug! Ek sal wat wil gee om te weet watter persentasie van hulle kan lees of skryf. Los die kwalifikasies! Kyk na ons leierskap! Volg hulle voorbeeld!

Ek sal volgende jaar gaan stem. Maar net omdat ek gou ‘n draai by KFC kan maak oppad terug. Miskien het hulle op daai stadium ‘n Kiddies Election Special aan. As jy die kiddies meal koop kry jy ‘n Jacob Zuma Action Figure saam. Kompleet met ‘n klein showertjie en ‘n Standerd Ses Sertifikaat.

Viva!

The End

Bietjie laat maar darem…

October 2nd, 2008

Wat ‘n interresante naweek vir… niemand. Wel, dis nou as jy nie belang stel in sport of politiek nie. Anders as die gemiddelde Suid-Afrikaner is ek so geinterreseerd daarin soos wat ek gatvol is daarvoor. Ek het gisteraand bietjie met Johan de Vries van die Moddereiland Potgooi op Skype gechat en hy het die gesprek op sy Blog gepost. Julle kan daarna gaan luister deur net na sy site toe te gaan. In elk geval, die ou tameletjie onderwerp oor die politiek en sport het toe weer opgekom. En weereens dadelik op my perdjie laat spring en amper soos Oubaas Eugene Terreblanche weer dadelik afmoer. Die Amstel wat ek saam met Johan gesit en drink het het niks hiermee uit te waai nie. So, kom ons val weg.

Die ANC se Jeugliga is weer bloeddorstig vanoggend. Die wil nou weer iemand doodmaak. Omdat hulle nie ‘n universiteit kan kry nie (berig is hier). Nou vra ek jou. As hulle nou die mense gaan begin doodmaak wie gaan op die ou end die universiteit bou? Dit laat my dink aan ‘n ding wat so paar jaar terug vertel is. Daar was ‘n hewige gevassittery omtrent die broodprys in een of ander nedersetting iewers naby die klipgooi spanne. Die was effens ongelukkig omdat die prys van hul stapelvoedsel gestyg het en het hulle toe besluit om hul misnoee uit te spreek deur die lorrie wat die brood in die area kom aflewer onklaar te maak deur hom af te brand. Dit het ook met ‘n gedansery om die trokkie gepaard gegaan. Na die paartie verby is het hulle toe met ‘n groot ontnugtering agtergekom dat die brood wat die dag moes afgelewer word nog binne in die trok was. En hulle hou nie baie van gebrande toast nie. Toe dans hulle weer uit verontwaardigheid omdat hulle niks het om te eet nie. Dit het egter nie naby hul woede gekom die volgende dag toe hulle agterkom dat dit die enigste lorrie was wat in daai area kon aflewer en dat hulle, sonder die lorrie, nie brood gaan kry nie. Toe dans hulle maar weer. Die storie kan wel ‘n opgemaakte ding wees maar die volgende is nie. Toe Bob Mugabe besluit “Da Brietiesh” moet die wit boere kom haal en vir hulle nuwe plase koop, stuur hy toe sy oorlogs veterane daarin om die plase oor te vat. Want hulle gaan mos nou boer en die geld beter kan aanwend. Die klomp veterane besluit toe hulle wil nie voortbou op die nalatenskap van “Da Brietiesh” nie maar eerder ‘n vars nuwe begin maak. En hulle brand al die tabak uit. Hulle rook dit nie, nee, hulle brand dit eenvoudig uit. Met niks om uit te voer nie en gevolglik geen inkomste nie het hulle toe maar net in die huise ingegaan, die mense “verwyder” en in hul huise gebly tot hulle die kos opgeeet het. Toe hulle agterkom die kos is op, begin hulle maar die meubels verkoop. Toe die alles weg is gooi hulle die ruite uit met klippe. En dans ‘n bietjie.

So nou maak ek ‘n stelling: Uit absolute weerwil met die samelewing en uitlewing van ons land se leuse, eendrag maak mag, gaan ek ook nou begin moor as ek nie iets kan kry nie. Die eerste op my lys is die eienaar van die drankwinkel om die hoek wat partymaal vergeet om genoeg hout en Amstel te koop. Tweede is al die mense wat sigaretas in ‘n gebruikte koppie of glas tip. Derde op my lys is die idiote wat toiletpapier maak dat dit NOOIT op die geperforeerde stukkie afskeur nie. Die vierde ou op my lys is my klient wat weier om sy email te lees. Inteendeel, ek het nou die dag twee duisend rand onder ‘n progress report vir hom weggesteek. Dit le nog daar. En so kan ek aangaan. Nota aan my ongebore kind: Moenie soos jou pa wees nie.

Sport. Ja, wat kan ek se? Die Blou Bulle het gewen. Weer.

Om mee af te sluit. Twee ou tantes, stoere Doppers, het uit een van die Aartklop Kunstefees se shows uitgehardloop omdat die akteur gese het God het ‘n sin vir humor. In die kerksaal nogal! Die vermetelheid… Nou vra ek myself, as ons in God se beeld geskape is, hoekom kan Hy nie ‘n sin vir humor he nie? Of is humor dan sonde? Met ander woorde as God nie ‘n sin vir humor het nie, en ons het, beteken dit ons pleeg sonde deur snaaks te probeer wees? As julle my nie glo nie, gaan lees die berig hier, maar julle mag nie lag nie, want dis sonde om vir iets te lag, want netnou was dit snaaks en dan lag julle vir iemand se sonde. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het niks teen Doppers nie. My skoonouers is Doppers en hulle dink ook hulle is snaaks. Anyway, ek dog maar net ek deel met julle.

So dan is dit nou dit… Lekker week.

The End

Is dit die einde?

September 22nd, 2008

Uiteindelik is hy gefire! Jip, ons Staats President, Mnr. Thabo Mbeki, is uit. Zuma, SAKP en die ANC Jeugliga het gewen. Dit na ‘n week waarin Regter Nicholson bevind het Mbeki het waarskynlik ingemeng met die Nasionale Vervolgings Gesag. EN soos die ingelse sal se: He had it coming! Natuurlik sal hy dit ontken, soos hy gisteraand wel gedoen het. Ons land se tweede swart Staats President het gister sy bedanking ingehandig nadat die ANC se uitvoerende kommitee hom ‘herroep’ het. ‘n Naweek in Kuruman vir die een wat weet wat daai ‘herroep’ nou eintlik veronderstel is om te beteken.

Die ‘herroeping’ kom in ‘n week wat die vierde grootste bank in die VSA en seker ook die wereld sy gat gesien het. So nou sit ons met ‘n dubble whammy. Die Amerikaanse ekonomie nies en die res van die wereld s’n kry verkoue. Zuma fire vir Mbeki en Suid-Afrika s’n sit met vigs. Mind you, ons kan net in ‘n stort klim dan is ons weer OK. Die feit is Mbeki, wat geen hofsaak teen hom het nie (wel, nog nie!), gaan tien teen een vervang word deur ‘n ou met Standerd 6, ‘n verkragting saak (wat uitgegooi is) en ‘n klag van korrupsie teen hom. Die rede? Mbeki se outokratiese bestuurstyl. Kombineer dit met sy manier om besluite te maak vir eie gewin en die feit dat hy ‘n korrupte polisie hoof en dwelm smokkelaar beskerm teen die moord op ‘n skatryk gay sakeman met ‘n vrou en kinders. Het Mbeki iets gehad om weg te steek? Het Brett Kebble iets van Mbeki geweet? Moes hy verwyder word omdat hy Mbeki dalk afgepers het met inligting? Seker tog nie oor sy streke in ‘n bordeel in Sunnyside terwyl Zanele Mbeki rondjaag om hom te soek nie. Of was dit dalk sy verhouding met Phumzi (Mlambo-Ncuka)? Wag, was Chris Hani nie dalk colateral damage omdat Mbeki jare terug op ‘n eiland naby Kaapstad om ‘n game dambord die sitplek van die kroonprins belowe is  nie? Of het ou Thabo net een keer te veel van die Umqombothi gedrink wat sy ma geleer maak het toe hy lekker in London gesit het en Mandela en die ander kaders in die tronk gesit het. Mbeki is geen engel nie, maak nie ‘n fout nie.

My punt? Ek is opgewonde. Veral omdat die Mbeki-span nou besluit om hulle goed te vat en boggerof en dalk hull eie party gaan stig. Dit beteken heel moontlik die einde van twee derde meerderheid vir die ANC. Tensy Julius Malema weer gaan dreig om te dans in die strate as dit ook gebeur! Ek wonder baie maal of ou Zuma maar net ‘n stamp gaan wees vir Julius se streke nie. Die ou is gevaarlik. Hy het die hele ANC jeugliga agter hom. Met ander woorde driekwart van die land se stemgeregtige, werklose kriminele. Die ander kwart sit in die parlement. Maar dis lekker! Dis politiek en dis beter as om Sewende Traan in die aand te kyk. Mind you, selfs Telly Tubbies is deesdae beter. Gay Telly Tubby en al. So ek sit met afwagting en besin oor my volgende stap. To immegrate or not to immegrate… Miskien moet ek my Facebook status gaan update…

The End

Die Kleine Tjolie

September 15th, 2008

Na ‘n lang en uitgerekte klomp emails en doodsdreigemente aan Vodacom het ek uiteindelik my website weer so ver gekry om te werk. Wel dis nou te se as die fout by hulle was. Die “techy” het my ‘n klomp tegniese leuens vertel en belowe hy sal dit regmaak. Die belofte is gevolg deur ‘n email van deklerasies van lojaliteit teenoor hulle kliente en versekerings van goeie dienslewering. In kort ek moes nog net my broek aftrek sodat hy kan begin lek. Na nog twee weke en dertig oproepe is ek meegedeel dat my website werk. Ek het geen verskil aan my kant gesien nie en het dit met so min geswets as moontlik aan hom probeer verduidelik. Ek dink die pastoor het die Sondagaand oor die beheersing van die tong gepreek want ek onthou ek was redelik kalm en diplomaties. Na nog twee weke se gesukkel het ek net moed opgegee en besluit om die spreekwoordelike handdoek in te gooi en my website oor te doen of te skuif. Vanoggend sit ek my laptoppie aan en jou waarlikwaar, my website maak weereens oop van my laptop af. Dis nou hier waar ek die peanut gallery moet stilmaak. Die fout was NIE op my laptop nie. Ek was op tien verskillende forums wat die probleem bespreek word en die ander slagoffers reken almal dit het iets met ‘n windows update te doen wat sekere websites op sekere rekenaars nie laat oopmaak nie. Drie hoera’s vir ons wereld se derde rykste man, ene Willie Hekkies (Gates - vir die minder skerpes).

Dis dan nou ook met ‘n diep en opregte opgewondenheid dat ek my grootste verjaarsdag persent ooit aan julle bekend maak. My rooikop vroutjie en ek verwag ons eerste baba in Mei 2009. Dit beteken die klein parasietjie is nou 5.6mm lank en weeg ‘n astronomies boggerol. Die hart klop teen 132 slae per minuut en is met skrywe 6 weke en 4 dae ‘n entiteit. Die oggend van my verjaarsdag het ons uitgevind dat die toets wat ek twee dae terug weggegooi het nie lank genoeg gele het voor ek hom in file 13 gaan liaseer net nie. Eers later hoor ek dat mense 5 minute moet wag en nie 5 sekondes soos sekere ongeduldige rooikoppe nie. Die tweede pienk strepie was dof, dog merkbaar en het nie naastenby soos een van my briekmerke gelyk nie maar dit was genoeg om my vrou in die bakkie te gooi en Clicks toe te jaag. By die huis gekom is elke kraan in die huis oopgedraai om ‘n piepie te genereer vir die toetsie. En na twee minute is daar ‘n tweede pienk strepie dik genoeg om ‘n u-turn met my bakkie op te maak, in die toetsie bespeur. Die briekmerk rekord in my onderbroeke was naby aan gebreek word.

Kleine Tjolie - 13 September 2008 WEB.jpg

Dis dan my Maandagoggend bydrae na ‘n lang afwesigheid. ek hoop om julle gou weer te vermaak met my stront pratery.

Tot volgende keer.

The End

Maandagoggend…

August 4th, 2008

Na ‘n uiters oninteressante naweek skakel ek vandag my laptoppie aan en onthou dat ek bietjie lanklaas geblog het. Ek het die naweek redelik rustig ingegaan, omgekry en met verbasend min skade aan my niere die Maandagoggend stil-stil ingeloop. Die vergadering wat ek 9 uur moes bywoon het, het eers laat begin en is op die ou end gehi-jack deur ‘n paar legal ouens. Die geniet nou voorkeur en ek sit in Bhisho met niks anders om te doen as om te vertel van ons naweek in SA nie.

Ons het in die tyd van inmenging in ons sport deur die politici (sien vorige blog) dit jou weliswaar reg gekry om die Pommies die eerste keer sedert die sestigs op eie bodem met die wilgertak uit Edgbaston se krieket stadion te slaan. Graeme Smith is vir eers weer met ‘n klomp brownie points terug kleedkamer toe nadat hy ‘n onoorwonne 154 geslaan het en die reeks in Engeland vir ons beklink het. Die engelse kaptein het sommer bedank. Die nuutste rumour is dat Kevin Pietersen wat nie span in SA kon kry toe hy nog hier was nie, nou die beste kandidaat is om Vaughn op te volg.

Bla bla bla, nog ‘n Suid Afrikaner wat beter vaar in die buiteland omdat hy nie die kans gegun word in sy eie land nie. Onthou vir Rathbone? Andrew Strauss? Wel Brad Barrit is ook oppad. Die talentvolle Shark is vir eers verlore vir SA nadat hy geteken het om in Francois Pienaar se ou engelse klub, Saracens, te gaan speel. Sy ma is blykbaar ook ‘n Pom en nou is die kans dat hy teen die einde van die jaar vir Die Rose kan uitdraf ‘n werklikheid.
Genoeg sport. Zuma hoor vandag of hy verder vervolg gaan word. Indien wel kan die storie nog twee jaar aanhou voordat ‘n uitspraak gelewer kan word. Dit beteken dat ons toekomstige president verhoorafwagtend mag wees wanneer hy volgende jaar die verkiesing wen. Wat gebeur as hy skuldig bevind word? Niemand weet nie. Die wat weet wil nie se nie. of hulle is dood. Nou vra mense my hoekom drink ek my badwater…

My suster se die ander dag vir my ek skryf soos Steve Hofmeyer. Nou weet ek nie of dit ‘n kompliment is of ‘n belediging nie. Ek weet hy het ‘n blog gehad. Spoegblog of iets. Ek het dit nog nooit gelees nie maar aangesien die opmerking van my suster afkom sal ek dit as ‘n kompliment beskou aangesien sy al ‘n paar keer met Steve oor die kop geslaan is. Dit sluit nie die drie honderd shows in wat sy al van ons land se beste babamaker gesien het nie. Ek persoonlik ken nie die ou nie. Ek sal nou nie rerig van sy musiek aanskaf nie omdat hy nie rerig iets sing wat my smaak is nie. Hy het wel ‘n paar goeie covers van Neil Diamond gedoen. Maar dis waar dit bly. Wat ek wel van hom hou is dit wat hy vir Afrikaans in ons land probeer doen en seker in ‘n groter mate as ek reg kry.
So gepraat van Pom. Het iemand geweet dit staan vir Prisoner of His/Her Majesty? Is dit dan nie meer korrek om die Aussies Pommies te noem nie?

Dis dan my bydrae vir die Maandagoggend.

Viva!

The End

Kan ons asseblief nou aan beweeg?

July 31st, 2008

Een van my gunsteling onderwerpe was nog maar altyd politiek. Nie net ons eie land s’n nie maar ook die van die buiteland. So paar jaar terug (einde 1999) was ek in Duitsland. Ek het met die een duitsertjie gechat oor ons land se politiek en hoe dit al verander het. Ons het op daai stadium net uit ons tweede demokratiese verkiesing gekom waar die ANC met ‘n magtige twee derde meerderheid gewen het en uiteindelik totale beheer oor parlement en gevolglik die hele land gekry het. Ons het stelselmatig oor beweeg na die politiek van Duitsland ook. Ek het nog altyd gese, Duitsland was verantwoordelik vir die drie belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom: Eerste Wereld oorlog, Tweede Wereld Oorlog en die perfekte bier, Franciskaner Weissbier.

Soos wat alle gesprekke oor die Duitsers maar gewoonlik gaan was ons binnekort op die ou Nazi en Hitler onderwerp (en skielik dink ek aan die twee nerds in die NIA wat my website nou flag omdat ek die twee woorde in my blog gebruik…!). Ek het regtig probeer sag praat en ek en die Duitser het alby engels gepraat. Tien minute in die gesprek in staan ‘n ourige dame langs ons. “Excuse me Sir, can you please stop talking about that man and whatever he did!” Ek was heel verbaas en kon nie eitlik uitmaak hoekom die ou tante so bedonnerd raak oor Die Fuhrer nie. Aanvanklik was my indruk dat sy nog erg in die ou dae leef en haar man dalk nog iewers in hulle basement geheime meetings met die ou Nazi’s wat nog leef het. Iets soortgelyks aan die Boeremag wat om ‘n liter brandewyn sit en beplan hoe hulle die land se ANC regering gaan omver werp deur ‘n treinspoor iewers in die Oos-Vrystaat op te blaas.” We are tired of hearing about this man and to be constantly reminded of the atrocities of his movement. Please leave it alone and allow us to go on with our lives.”

So paar dae gelede lees ek van ou Komphela (die voorsitter van die parlement se sport portelfeulje kommitee) wat Saskok (Suid-Afrikaanse Sport konferderasie en Olimpiese Kommittee) gaan boikot omdat hulle deur ‘n klomp wittes en Indiers beheer word wat totaal en al uit voeling is met die transformasie van ons land en geen visie het nie (lees berig hier). Ons regering druk regstellende aksie en transformasie in elke klein gaatjie van ons wit en swart en geel en wat ook al lywe in op. “the atrocities of the apartheid - regime”.

Toe dink ek terug aan die ou Duitse tante wat my yskoue Franciskaner kom flat maak het met haar inmenging in ons gesprek. Ek besef toe hoekom sy so gereageer het. Die land en al sy suurgatte sal nooit toelaat dat enige iemand sal vergeet van ons verlede nie. Ons word telkens daaraan herinner deur die media, Mense Regte Kommissies, drie dronk koshuis laaities en ‘n bak nagemaakte piepie, diskriminasie in die werksplekke in die naam van transformasie, en wie weet watter ander goed nog.

Ons wit mense, en hier praat ek spesifiek van ons generasie is gatvol daarvoor om in die eerste plek te boet vir die besluite van die vorige generasies (ons pa’s en oupa’s). Ons is gatvol in die tweede plek om daaraan herinner te word dat ons seker vir die res van ons lewens gaan boet vir iets wat ons niks mee uit te waai gehad het nie.

Nelson Mandela het gese dat ons moet vergewe en vergeet. Dalk het ons vergewe maar ons sal nooi vergeet nie. Want ons word altyd daaraan herinner.

Kan ons asseblief nou aan beweeg?

The End

Kan ons weer probeer?

July 30th, 2008

Nou ja, dit was ‘n lang afwesigheid sedert die vorige stukkie stuiwer in die armbeurs. amper ‘n jaar om nou hare te probeer kloof. Ek en my vrou het al die eerste anniversary gehad en al was ons nou nie oorsee vir die geleentheid nie moet ek se ons land bied enige dag net sovell mooi en unieke plekke om te gaan vakansie hou.

Vat nou maar die lande net noord van ons. Verlede jaar Desember is ek en Lelanie deur vier lande met my nuwe bakkie. Ja, ek het ook intussen my klein ‘hatchbackie’, stywe t-shirts en sweetpak broeke verruil vir ‘n dubble-cab, kortmou toeknoop hemde (is daar ‘n fancy naam vir die hemde?), en chino’s of combats. Ons was ‘n hele paar mense. Onder andere ook neef Rico en sy girl (nou sy verloofde).Ons het deur Botswana, Namibie en Zimbabwe gery en vir brekvis een oggend oorgeloop Zambie toe. Ons kon nie kos kry in Zimbabwe nie. Diesel ook nie. Toe gaan ons terug Botswana toe na brekvis en gaan vang vis. Weer. Die eerste keer wat ek in my lewe ‘n tiervis uittrek was so paar dae terug in Namibie.

Tiervis.jpg

Dit was ‘n 6kg vissie. 2kg van die rekord vir Island View (Waar ons gebly het). Toe ons in Botswana kom trek ek so 1kg dingetjie uit. Dit was waar die gogga toe byt. So twee maande terug los my een pel se verloofde hom. Drie weke voor die troue. Ek sou best man gewees het. Toe ek myself weer kry sit ek op honeymoon saam hom omdat hy klaar betaal het. Raai waar? Chobe Safari Lodge in Kasane, Botswana. TOE vang ons vis. Ons het opgehou tel by die dertigste Tier. Diekamera het nie eers meer foto’s geneem nie want ons het verveeld geraak. Dis toe wat ons in Namibie ingaan met die boot en Nembwe gaan soek. Ons toeriste ken dit as Bream. Ek het so twee fris outjies uitgetrek en Dave so vier. Die ou kan fly. En fly werk vir Nembwe. EK wag nog vir die foto’s wat hy moet stuur.

Intussen is my ‘About page’ ook geupdate. gaan lees maar. Maar dis hier waar dit gaan gebeur. Mense se dis terapeuties om ‘n joernaal te hou. Die site is vir ons de Wets en Hattinghs (die skoonfamilie). Hopelik sal my kinders eendag die site geniet.

Kom ons pik gou ‘n traan…

The End

Die Getroude Lewe

August 23rd, 2007

Dis nou reeds 3 maande, 18 dae, en so twee ure wat ek nou getroud is. In die tyd het ek seker nou twee duisend keer die vraag moes beantwoord oor hoe die getroude lewe is. As iemand my bel wil hulle weet hoe die getorude lewe is. As ek by die werk instap by ‘n klient wat my lanklaas gesien het wil hulle weet hoe die getroude lewe is. En as my ma my bel wil sy dit ook weet.

Die snaakste van alles is dat die mense wat my die vragie vra almal getroud is. Nou wonder ek, het die mense gedink die getroude lewe het enigsins verander intussen? Toe kom ek nou met so paar dingetjies op wat mense gewoonlik hoor verander as die ring aan die vinger is:

  • Die onderbroek op die badkamervloer: Word hy eweskielik opgetel?
  • Die bed: Word dit skielik opgemaak?
  • Die skottelgoed: Is die kombuis ewe skielik elke aand skoon voor ons gaan slaap?
  • Die tuin: Is die gras nou altyd netjies gesny?
  • Die tandepasta buisie: Is die proppie nou skielik mooi skoon?
  • Die seks: Het die gereeldheid afgeneem?

En so kan ons aangaan. Ek sal vir vanselfsprekende redes nie op sommige van die vrae antwoord nie maar ek kan wel noem dat ek die onderbroek nou optel. Nie omdat ek getroud is nie maar omdat die nuwe hondjie die goed vol gate kou. Die bed opgemaak word en die tuin netjies is omdat ek ‘n bediende en tuindienste gekry het. Nie omdat ek getroud is nie.

My punt is: Ek dink nie veel het verander nie. Wat ek wel agter gekom het is dat dit een ding is om iemand vir ‘n jaar of twee te date / uit te gaan / te sien (of wat ook al hulle die dit deesdae noem) maar ‘n totale ander ding is om onder een dak saam dieselfde persoon te bly. Die lewe kry net nuwe perspektief en jou uitkyk kom uit ‘n ander angle uit. Maar op die ou en is dit maar nog net dieselfde. Mense sal seker van my verskil maar ek dink nie veel nie. Dalk is ons nog te jonk getroud om te weet, ek is nie seker nie. Maar een ding is seker, as die persoon met wie jy getrou het die regte een is vir jou is dit verbasend minder van ‘n kultuurskok.

My raad?

  • Dis prakties - dis duur aan die begin maar dit word later finansieel makliker.
  • Die geselskap is partymaal vreksnaaks (veral in my geval) en kan die dag se stres minder maak.
  • Die lekker as iemand anders vir ‘n slag gaan groceries koop.
  • Die klere shopping is nie meer so irreterend nie (ek haat klere shopping).
  • Die honde het altyd kos en
  • ek drink nou weer koffie in die oggende ( vroeer was ek te lui om vir myself in die oggend te maak)
  • Die beste is jy vat elke aand iemand bed toe!

Ek is nie die maklikste mens om mee saam te leef nie. My vrou het verseker meer guts as wat ek gedink het om met my 35 jaar oue gewoontes te wil sit vir die res van haar lewe (of dit, of sy is ‘n massogis!) en ek se elke aand dankie dat sy bereid is om dit te doen. Die antwoord op die aanvanklike vraag? Dis lekker.

The End

Oumense darem

May 16th, 2006

My pa het altyd met die volgende uitdrukking gekom: Oumense, vroumense, kinders, swartes (julle weet wat ek bedoel), en karre.

Hy was nogal reg ook. Ek onthou die dag toe my oupa op die ryp ouderdom van 75 sy trekker in gear gestart het en toe ry die ding oor hom. Ek sweer! En ‘n jaar later braai ons eendag op die plaas en ons moes gaan houtkap. Sal hy vir my, my pa en oom vertel ons moet een kant toe staan want hy wil hout kap, nie kerf nie.

My ouma se tweede man het so paar maande terug die tydelike met die ewige verwissel. Sy is ook al 80 en moes maar toe in’n huis vir bejaardes / kliniek opgeneem word want sy het konstante hulp nodig met shower en so aan. Sal sy my bel en vertel ek moet haar kom haal want ‘die klomp ou mense is almal mal!’

En so klim my pa en oom gister oggend op ‘n gebou se dak (my oom bou, my pa verf) en my pa dink hy’s is Osama bin Laden en duik gesig eerste af grond toe (die skoen wat iewers vasgehaak het, het ook ‘n bydrae gehad tot die nuwe toertjie). Nou le die ou in die hospitaal met ‘n gebreekte arm en gesig (genuine!). En vandag, een operasie aan die arm en ‘n paar ‘kalkoenskokke’ soos die nurse die coctail noem wat my pa op ‘n trip sit, verder is ons oor ons ergste skok en kan ek uiteindelik die humor in die situasie sien. Hy het pyn, en ek kry hom jammer. En terselle tyd dink ek by myself hoe ek sou gelyk het as ek kop eerste in die grond vas duik vanaf ‘n drie meter hoog dak?

Die ou mense darem…

The End