Die Clarens verlowing

'Castle in Clarens' / 05 November 2006

Toe ek Lelanie se ma die eerste keer ontmoet het was dit ongeveer 'n jaar voordat ek haar ontmoet het. Haar ma het van haar gepraat maar ek het haar nie ontmoet nie. 'n Jaar later moes ek weer Aliwal-Noord toe gaan vir werk en het weer met my aanstaande skoonma in aanraking gekom (sy was my kliënt). Sy het my patetiese besigheidskaartjies gesien en my onmiddelik na haar dogter verwys om nuwes te kry. Presies ses maande later is ons verloof en nou is ons besig om die troureëlings te finaliseer en trou presies een jaar nadat ons mekaar ontmoet het. Baie mense sal vra wat dit nou eintlik met hulle te doen het. Dis niks buitengewoon nie. Wel, die ding wat dit buitengewoon maak is dat ek die eerste maal wat ek haar ma ontmoet het reeds geweet ek gaan met Lelanie trou. Daar was geen bonatuurlike openbaring, droom of ou grys omie wat met 'n diep weergalmende stem die feit aan my oorgedra het nie. Ek het maar net geweet. Hoe het Lelanie geweet? Ek het haar belowe ek sal vir haar 'n nuwe kar koop as hare breek.
Die website is daar om julle bietjie meer te wys van die naweek wat ons verloof geraak het en na die troue kan julle weer hier kom inloer om na die troufoto's en honeymoon foto's (die gesensordes!) te kyk. Julle kan ook die website gebruik om vir die troue te rsvp. Die ontwerp en uitleg is deur Lelanie gedoen en van die funksionaliteit deur ons goeie vriend Willie Viljoen van Bloemfontein. Ons het gedink ons wil dinge bietjie anders doen. Daar is so paar mense wat kaartjies gekry het maar dis mense soos my ma en pa wat effens sukkel met tegnologie.
Daar is ook 'n padkaart wat julle kan aflaai om die kerk en onthaal venue te kry. Ongelukkig kan ons nie vir julle kontak besonderhede gee oor akkommodasie naby die onthaal nie vir een groot belangrike rede: Daar is niks in die omtrek nie! Aangesien julle hierdie website kan sien en reeds oor die nodige rekenaargeletterdheid beskik om die internet te kan gebruik gaan ons julle een website gee om na akkommodasie te soek: www.google.co.za. PE is nie baie groot nie en vir die Gautengers sal die afstande so klein wees dat hulle dalk in Jeffreys sal wil gaan bly as hulle aan ontrekingssimptome lei van die afwesigheid van stadslewe en afstande.
Die website gaan nie oor my prosaïse vermoëns (of gebrek daaraan) nie, maar oor die foto's en heel belangrikste die RSVP wat julle ons kan laat weet of julle kom of nie. Dit maak dinge vir ons en vir julle soveel makliker. As julle sukkel met die website kan julle ons kontak. Die kontakbesonderhede is hier.
Ons sien uit na die groot dag en om almal soveel as moontlik deel te maak daarvan.

Rudi

Kliek gerus hier en kyk na ons verlowings fotos.